RSS

Category Archives: Afrikaanse Artikels

Borsvoeding in ‘n Neutedop

Borsvoeding is meer as net ‘n manier om melk in jou baba se magie te kry. Dis die waardevolste geskenk wat jy ooit vir jou kind kan gee: ‘n geskenk van emosionele en fisiese welsyn wat lewenslank dividende sal betaal. Borsvoeding is ‘n unieke verhouding, ‘n sensitiewe ouerskapstyl, ‘n liefdevolle en wyse benadering tot ma-wees. Nuwe ouers kla dikwels tong-in-die-kies dat hulle baba nie met ‘n gebruikershandleiding gekom het nie. As jy egter die wenke hieronder volg en jou baba fyn dophou, sal jy gou agterkom dat borsvoeding so na aan ‘n handleiding is as wat jy maar kan kom. Wanneer jy jou baba borsvoed leer jy hom ken en verstaan en word jy die ekspert oor sy gedrag en behoeftes. Borsvoeding is ‘n dans tussen ma en baba, en terwyl jy die passies saam met jou baba leer, groei jou intuïsie en sensitiwiteit.

Top Tien Wenke vir Suksesvolle Borsvoeding                     

  1. Borsvoed onmiddellik na geboorte. Jou baba se suigrefleks is die sterkste in die eerste uur na geboorte. Borsvoeding help jou uterus saamtrek om bloeding te verminder, help jou melkvoorraad vestig en help jou en Baba om te bind.
  2. Maak Baba jou kamermaat in die hospitaal. Navorsing het bewys dat rooming in jou kanse op suksesvolle borsvoeding verdubbel en dat ma’s en babas meer rus kry.
  3. Voed gereeld: hou jou baba dop, nie die horlosie nie. Die gemiddelde borsbaba drink 10 tot 12 keer in 24 uur, omdat borsmelk binne slegs sowat 90 minute verteer. Laat jou baba so lank drink as hy wil.
  4. Maak seker dat jy Baba reg posisioneer en dat hy reg latch (aan die bors vassuig). Kry ‘n gemaklike posisie om in te voed. Gebruik kussings om jou baba borshoogte te lig. Bring altyd die baba na die bors, nooit die bors na die baba nie. Maak seker dat Baba sy mond wyd oopmaak en aan ‘n groot gedeelte van die areola vassuig. Babas moet borsvoed, nie tepelvoed nie!
  5. Voed Baba aan beide borste. Om te verseker dat jou baba die regte balans tussen voor- en agtermelk kry, is dit wenslik om hom tydens elke voeding aan albei borste te laat drink. Voed hom eers aan die volste bors tot hy self afkom of vas aan die slaap raak. Ruil dan borste en laat hom weer so lank drink as wat hy wil. Met die volgende voeding bied jy die laaste bors eerste aan.
  6. Laat Baba in die eerste ses weke NET aan jou bors suig. Dit is belangrik om in hierdie sensitiewe periode enige byvoedings en kunsmatige tepels (soos fopspene en botteltiete) te probeer vermy. Jou melkvoorraad word nog gekalibreer en hoe meer Baba aan jou drink, hoe beter. ‘n Baba suig boonop heeltemal anders aan ‘n kunsmatige tiet as aan jou bors en mag verward raak as hy die twee moet afwissel terwyl hy nog leer. Na ses weke is dit egter belangrik om Baba soms borsmelk uit ‘n bottel te gee sodat jy hom met selfvertroue by iemand kan los indien jy ‘n rukkie uitgaan of moet gaan werk.
  7. Onthou die beginsel van aanvraag en aanbod! Borsmelk bevat ‘n protein wat Feedback Inhibitor of Lactation (FIL.) genoem word. As jou borste vol is, bevat hul baie FIL en die brein kry die boodskap om melkproduksie te verlaag. As jou borste leeg is, bevat hulle min FIL en jou brein maak dus seker dat melkproduksie hoog is. Jou doelwit: hou jou borste deurentyd so leeg moontlik, dan is jou melkproduksie optimaal.
  8. Kry professionele hulp indien nodig. Moenie huiwer om ‘n laktasie konsultant te raadpleeg indien borsvoeding nie glad verloop nie. Sy sal jou tuis kom besoek en julle met praktiese navorsingsgebaseerde raad bystaan.
  9. Omring jouself met ‘n ondersteuningsnetwerk. Woon La Leche League vergaderings by, sommer terwyl jy nog swanger is. Kry jou lewensmaat aan jou kant: hy is jou belangrikste bron van ondersteuning. Laat enige kritiek soos water van ‘n eend se rug afloop – veral as dit van iemand kom wat nie geborsvoed het nie!
  10. Byt vas! Hoewel borsvoeding natuurlik is, kom dit beslis nie vanself nie! In die eerste weke is dit normaal om te sukkel en om te voel asof jy niks anders doen as voed nie. Hou moed, met geduld en die regte inligting sal borsvoeding binnekort gerieflik en genotvol word.

Wanneer om hulp te kry                                   

Kontak ‘n laktasie konsultant wanneer jou:

  • Tepels baie seer en/of gekraak is;
  • Bors ‘n gevoelige rooi, geswolle knop het;
  • Borste so gestu is dat jou baba sukkel om te drink.

Kry ook hulp wanneer jou baba in die eerste ses weke:

  • Minder as vyf nat en/of twee vuil doeke in 24 uur het (nadat jou melk ingekom het, maar voor ses weke, want hierna kan dit normaal wees vir Baba om slegs elke tien dae of meer stoelgang te passeer);
  • Elke uur wil voed vir meer as 48 uur;
  • Gereeld vir meer as ‘n uur lank voed;
  • Meer as een periode in 24 uur het waarin hy vir langer as vier ure slaap;
  • Minder as 8 voedings per dag het.
 
Leave a comment

Posted by on February 13, 2012 in Afrikaanse Artikels, Breastfeeding

 

Tags: , , , , , ,